DIE SON: HOORT NIE OP ASHOOP

By
Updated: May 2, 2017

Deur: Sportredaksie

DIE Kings se Superrugby-sege van 44-3 oor die Rebels het opnuut die vraag laat ontstaan of dit regverdig is dat die span van die Oos-Kaap volgende jaar uit Superrugby geskop word.

Die span van Deon Davids, afrigter, speel tans voortreflike rugby.

Die Kings het die vorige week met die voormalige Superrugby-kampioen die Waratahs met 26-24 in Sydney afgereken.

Die span van Port Elizabeth speel nie net tans aantreklike wenrugby nie, maar spog ook met skitterende spelers.

Veral die vleuel Makazole Mapimpi het die oog getref met sy opwindende spel.

Die talente van die 26-jarige boorling van Mdantsane sou nooit raakgesien gewees het as hy nie die geleentheid vir die Kings-franchise in Superrugby gekry het nie. Dieselfde geld die Kings se ander vleuel Malcom Jaer.

Mapimpi en Jaer gaan luidens berigte volgende jaar vir die Cheetahs uitdraf.

En dan is daar die bobaas-baljagter Chris Cloete. Net soos Mapimpi het Cloete vir die Grens-Bulldogs gespeel. Cloete het ook vir die WP uitgedraf.

Cloete speel ’n groot rol in die sukses van Kings. Hy is ’n spesialis-balgapser met die vermoë om die bal by die afbreekpunte stadig te maak.

Al weeg hy swaarder as die All Black-flank Ardie Savea, word hy ongelukkig deur ’n span soos die Stormers as te klein beskou.