DIE SON – KINGS: GROTE OP PAD

By
Updated: April 27, 2017

Deur: Sportredaksie

DIE Southern Kings berei hulle voor op ’n groot stryd.

Die manne van die Baai verwag die Rebels sal Saterdag­aand in die Nelson Mandelabaai-stadion net ­sulke taai opponente wees as die Waratahs verlede naweek.

Die Kings se hulpafrigter, Barend Pieterse, sê hulle staal hulle vir ’n groot stryd.

Die Rebels en Sharks het verlede week gelykop (9-9) gespeel in Durban.

Pieterse sê: “Kyk, die ­Rebels is eufories ná ’n goeie vertoning, so, ons weet hoe dit jou laat voel wanneer hulle jou volgende teenstanders is.

Stuit

“Ons berei ons dus voor op ’n groot stryd.”

Pieterse sê egter om die Rebels se aanslag te stuit, het die Kings die ideale wapens in die gedaante van Irné Herbst en Wilhelm van der Sluys.

Dié twee slotte is besig om ’n skitterende kombinasie te vorm en was van die uitblinkers in die span se toer in Australië.

Pieterse sê: “Ons is baie gelukkig om Irné en Wilhelm in die span te hê.”

Hulle vervang JC Astle en Steven Sykes, wat ná verlede seisoen vort is, en Pieterse sê hulle vul die leemte perfek.

Pieterse sê: “Wilhelm bied die span ’n kalmte, ­amper soos Sykes verlede seisoen, en dis baie belangrik – veral wanneer dinge woes begin raak.”

Pieterse sê Herbst daarenteen is ’n geval van wat jy sien, is wat jy kry: “Hy is rof en wil spelers aanvat, en soms het ’n mens so ’n speler nodig.

“Irné is van die Bulls, so, hy ken van harde rugby.”

Pieterse reken die Rebels sal ­hulle in veral die skrums wil boor, maar hy sê ook daarvoor sal hulle gereed wees.