post

Die Son: Kings kry 2 uit 2 na sege oor SWD

Deur: Sportkantoor

DIS twee uit twee vir die Southern Kings nadat hulle gister in die Nelson Mandelabaai-stadion hul Superrugby-voorbereiding met ’n sege van 42-24 oor die SWD-Arende afgesluit het.

Die Kings het die wedstryd goed gespeel, maar sal nog aandag aan hul verdediging en besluitneming moet gee.

Albei spanne het die gees van die opwarmingstryd gebruik en goeie hardloop-rugby gespeel.

Die Kings het vyf drieë gedruk teenoor die vier van die Arende.

Daar is selfs in die doodsnikke ’n strafdrie aan die Kings toegeken. Dit tel deesdae sewe punte, so dit het die KIngs van die oorwinning verseker.

Die Kings het glad nie tyd gemors nie en het ná vyf minute reeds die eerste drie aangeteken toe Alshaun Bock gaan druk het.

Ná die rustyd het albei spanne onmiddellik veranderings begin maak. Dit het egter die ritme van die spanne belemmer en hulle het gesukkel om die vloeiende rugby van die eerste helfte te herhaal.

Dit het alles verander toe Boela Abrahams, die Arende se skrumskakel, die eerste punte van die tweede helfte in die 58ste minuut aangeteken het nadat hy ’n mooi beweging afgerond het.

Kort daarna het Malcom Jaer, die Kings se plaasvervanger, ook vinnig sy stem dik gemaak om aan die Kings-breier, Deon Davids, te wys hy is steeds aan die brand.

Die Kings kort nog skaafwerk, maar hulle het nog twee weke voor die afskop teen die Jaguares.

Puntemakers:

KINGS – drieë: Alshaun Bock, Mike Willemse, Andisa Ntsila, Makazole Mapimpi, Malcolm Jaer, strafdrie; doelskoppe: Lionel Cronjé (4), Pieter Steyn de Wet.

SWD-ARENDE – drieë: Charles Radebe, Janneman Stander, Boela Abrahams, Freginald Africa; doelskoppe: Johnny Weithagen, Leegan Moos.

  • Die Son – 14 February 2017 – http://www.son.co.za/Sport/kings-kry-2-uit-2-na-sege-oor-swd-20170214