post

DIE SON: KINGS SE FOKUS IS NET OP BULLS

Deur: Werner Wippenaar

DIE Southern Kings blyk nie gepla te wees oor die swaard wat bo hul kop hang nie.

Dis omdat die Kings die Jaguares Saterdag met ­31-30 in Buenos Aires in ’n Superrugby-wedstryd geklop het.

En dit was ’n geskiedkundige oorwinning, aangesien dit die eerste keer is dat die Kings ’n Superrugby-wedstryd in Argentinië wen.

Die swaard is dat die Kings dalk aan die Superrugby-kompetisie onttrek sal word.

Dis omdat besluit is dat die spanne wat daaraan deelneem, van 18 tot 15 verminder moet word.

Uitgeskop

Een Suid-Afrikaanse span en twee Australiese spanne sal die slagoffers wees.

As die Kings uitgeskop word, sal hulle van September dalk deelneem aan die Pro 12-reeks in Europa.

Dis ’n kompetisie waaraan klubs van Ierland, Italië, Skotland en Wallis deelneem.

Die Suid-Afrikaanse Rugby­unie (Saru) sê Vrydag watter twee spanne onttrek sal word.

Die Kings se kaptein, Ross Geldenhuys, sê egter hulle is nie gepla oor dié ­situasie nie.

“Of ons Superrugby of Pro 12 gaan speel, maak nie saak nie,” het Geldenhuys gesê.

“Ons moet nou net fokus op ons volgende wedstryd (Saterdag teen die Bulls in Pretoria) en ons bes doen.”

Die Kings beleef tans hul beste seisoen ooit in Super­rugby en kán die Bulls en Cheetahs klop.

Die Kings se afrigter, Deon Davids, het selfs besluit om van Buenos Aires nie terug te keer Baai toe nie, maar eerder na Pretoria.

Die span sal dié week dus daar voorberei vir die wedstryd teen die Bulls.

Davids het gesê: “Ons wil op niks anders as die Bulls fokus nie.”

Hy sê die span wil in sy laaste twee wedstryde net sulke goeie spel lewer as vroeër die seisoen en met niks minder nie as oorwinnings afsluit.