post

DIE SON – KINGS SE SUSKES IS ‘N LES VIR DIE HELE LAND

Deur: Sportredaksie

DIE Southern Kings se suksesverhaal is ’n les vir die hele Suid-Afrika.

Eintlik is die einde ’n treurige verhaal omdat die Kings nou weer van vooraf moet begin bou aan ’n span.

Ek glo egter nie dit sal enige van die betrokkenes se geesdrif demp nie.

Die Kings het klaar gewys hulle kan van niks sukses behaal.

Nuwe spelers sal gewerf moet word om die talle ster-spelers wat voortaan elders gaan rugby speel, te vervang.

Bitter min lede van die span bly oor om aan die nuwe kompetisie deel te neem.

Die losskakel Lionel Cronjé was die span se groot uitblinker die afgelope seisoen.

Hy moes, soos baie ander, vroeg in die seisoen besluit oor sy toekoms omdat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) nie kon sê of die Kings in Superrugby sal aanbly nie.

Hy sê hy sal graag wil terugkeer na Port Elizabeth, maar ongelukkig sal dit nie gou genoeg wees vir die Kings nie.

Cronjé en sy spanmaats se aanhouer-wen-mentaliteit is een van die redes waarom die Kings die harte van duisende Suid-Afrikaners gesteel het met hul opwindende hardlooprugby.

Die Kings se breier, ­Deon Davids, verdien egter meer lof as die spelers.

Hy is die man wat ’n projek aangepak het waarvoor die meeste afrigters nie kans sou gesien het nie.

Davids het nou iets wat almal gedink het net ’n mors van tyd is, gevat en dit omskep in iets wat iets groots kon word.

Hy het van die begin af gesê as hy die geleentheid kry om iets te bou en dit te laat ontwikkel, sal hy iets daarvan kan maak.

Davids het dit gedoen, al het hy nie eens geweet of die span ná dié seisoen sal oorleef nie.

Dit het die Kings net twee seisoene gevat om groot verbetering te toon, en dít op sigself is merkwaardig en prysenswaardig.

Davids en die span se eerste seisoen was glad nie goed nie, maar ’n mens kon reeds sien daar is iets besonders aan die span.

Die tweede seisoen dat ­Davids in beheer was, het hy sy band of brothers omskep in ’n hegte eenheid wat vir mekaar en vir die Oos-Kaap gespeel het.

Niemand kan sê dat Davids se span nie alles gegee het en nie geveg het tot die laaste minuut nie.

Ek het vroeër vanjaar gesê dis iets wat ons Springbok-rugby verloor het.

Soos die Springbokke verlede jaar gespeel het, was dit duidelik dat hulle hul veggees verloor het.

Die Kings het aan almal bewys ’n mens hoef nie die beste te wees om ’n pak slae uit te deel nie, selfs teen die beste spanne.

Hopelik is dit iets wat die res van SA Rugby sal aansteek.

Die Lions is een van die spanne wat ’n soortgelyke mentaliteit het, maar die Kings se suksesverhaal is beter omdat die Oos-Kapenaars weinig kans gegee is om te slaag.

Davids en sy spelers is nou voorbeelde vir SA Rugby dat dinge wel kan werk en dat ons rugby eendag weer die beste kan wees.

As SA Rugby nie gaan munt slaan uit wat Davids vermag het nie, skort daar iets groots.

Suid-Afrika kort meer afrigters soos Davids vir die toekoms van die spel.

Wat dit nog meer besonders maak, is die algemene opvatting dat dinge twee keer langer vat om te gebeur in die Oos-Kaap.

Die Kings het dié opvatting nou finaal nek omgedraai.